Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Kompartemente

My brein bestaan blykbaar uit ‘n klomp kamers. Elke kamer verteenwoordig ‘n belangstelling of aktiwiteit.  Skynbaar het ek net die vermoë om een kamer op ‘n keer te beset. Wanneer ek in daardie kamer is, kuier ek so lekker dat ek die deur toetrek en vergeet van die ander vertrekke.

Help! Ek verswelg in my goeie voornemens. Sedert ek weer begin blog het, het ek nog nie ‘n dooie woord verder aan my manuskrip geskryf nie. ‘n Mens kry mos ‘n kennisgewing dat iemand ‘n nuwe inskrywing gemaak het en goeie volgeling wat ek is,  gaan lees ek dit dadelik. Daar is soveel interessante mense wat hier blog wat opbouend/vermaaklik/leersaam/ hoe ook al skryf. Dit voel asof ek saam met ou vriende kuier. Die foto’s is pragtig en die beskrywings van verre lande maak my lus om my tas te pak.

Dit doen ons ook gereeld. Binnekort gaan ons  Namibië toe.

Ek groet vir eers. Dankie vir die saamkuier. Moenie dit persoonlik opneem dat ek jou as volgeling van my blog verwyder het, of omdat ek nie meer kommentaar by jou blog lewer nie.

Deurspek

Tydens  ʼn onlangse konferensie is die vraag weer eens gestel: wat is ʼn  tipiese Afrikaanse roman nou eintlik? Dis wat Joan Hambidge nou die aand op RSG tydens die program Skrywers en Boeke gesê  het. Die konferensiegangers het skynbaar ooreengekom dat dit ʼn roman is wat Afrikaanse woorde bevat wat Engelsprekende Suid-Afrikaners nie noodwendig sal ken nie.

Party Engelse skrywers beskik ook oor ʼn skynbaar onuitputlike woordeskat van duistere woorde. Een groot bron van lekkerte van ʼn Kindle is dat mens die betekenis van ʼn onbekende Engelse woord onmiddellik kan naslaan. Algaande leer jy darem, mits jy dit onthou.

Miskien is ek net so opsetlik soos hierdie skrywers, want ek hou ook daarvan om die woorde wat spontaan by my opkom te gebruik. Sommige daarvan is bra verouderd. Ander is streekstaal wat my ouers gebruik het of dis my skoon-ouma se gesegdes wat bly vassteek het, bv. vliekiestuiwer. Dit was haar woord vir daardie taai, rooi lelle wat van ʼn plafon hang en wat elke vlieg inderdaad in sy spore stuit.

Nie dat ek noodwendig “boektaal” wil “besig” of deftig wil praat nie. Ek voel dit net aan my moedertaal verskuldig om van ons pragtige idiome, skertsende woorde en neologismes nie verlore te laat gaan nie. Daar is mos heerlike woorde soos bv. kuierkoop, watsenaam en vuilbaard wat in geselstaal gebruik word en wat amper onvertaalbaar is.

As ons skrywers nie daarmee gaan vasbyt nie, gaan amazing, nice, cool en awesome binnekort ons enigste byvoeglike naamwoorde en bywoorde wees.

Oh, my word!  Maar dan sal dit seker nie meer nodig wees om die definisie vir ʼn tipiese Afrikaanse roman te soek nie. Enige Engelse leser sal die brabbeltaal easy-peasy verstaan. Dit sal myns insiens ʼn treurige dag wees.

My wederhelf hou nie van onbeplande trippies nie. Sy idee van geluk op die lang pad is om ons roete vooraf op die GPS in te sleutel. Dan kan hy tevrede wees in die wete dat Miss Florence Nightingale met haar soet stemmetjie nie histeriese herberekenings sal moet maak nie.

Vir die wis, die onwis – en  die paddavis – vat ons gewoonlik ook ons AA padkaarte saam. Hy dink ek weet nie daarvan nie, maar hy beloer boonop uit Google-Earth se hoogtes elke dal, bergreeks en bospaadjie nog lank voor ons in die pad val. Ons bespreek vooraf verblyf by al die plekke op ons roete waar daar miskien ʼn toeloop van toeriste mag wees. Hy is die bestuurder en ons veiligheid hang van hom af. Ek kla nie. Op my eie gaan ek tog nie rondreis nie.

So het ons dus met Clarens gemaak toe ons die naweek gaan kyk het hoe geel die populiere nou is.  Ge-Florence Nightingale sodat sy met haar lampie ons pad kan verlig, vooraf plek bespreek, deposito’s betaal, ens. Die naweek het ons duisende foto’s geneem, gekuier, geëet – al’s te lekker.

Image

Toe praat ek hom om dat ons die duisterhede van Lesotho moet aandurf. Ons twee was nog nooit daar nie. So ry ons onbeplan (ons het hierdie keer ook die kaartboeke by die huis vergeet) deur die Caledon grenspos. Dit gaan klopdisselboom. Nog nooit is ons so vinnig deur ʼn grenspos nie. Florence wikkel met ons teen die Motengpas op. Basoetomans ry met kleurryke komberse op hul ponies. Die klank van skape se klokke weerklink in die Valley of Hope.

Ons oornag in die New Oxbow Lodge  heelbo op die berg. Dis bitter koud. Ons twee is die enigste gaste. Onweerswolke maak die lug donker. Skielik breek die son deur die reën in daardie matelose mooi lig wat mens soms kry net voor die son ondergaan. Ons staan op ons klein balkon en neem foto’s dat dit klap van die reënboog. Twee minute, toe is dit verby.  Op die terugreis was daar mis hoog in die berge.Image

Die enigste vlieg in die apteker se salf was die dik-gesig, smalende polisieman wat ons met ʼn soort van padblokkade net voor Butha-Buthe  in ʼn val gelok en probeer afpers het. Maar my man laat hom nie afpers nie en die ou het ons kopskuddend en met leë hande laat gaan.

Ons beplan alweer ons volgende trippie.

Humor

Hoe skryf ʼn mens humoristies sonder om die perke van goeie smaak en welvoeglikheid te oorskry? Wat is regtig snaaks? Dis moeilik om te definieer, want wat vir een persoon laat lê van die lag, is vir ʼn ander pure lawwigheid.

Goeie raad is om nie oorboord te gaan met enigiets nie. Daar is min leesstof so irriterend as ʼn skrywer wat so behep is met sy eie spitsvondigheid dat hy nie weet wanneer om op te hou om die humor in ʼn situasie te melk nie.

Is daar enige lewenssituasie wat nie deur ʼn skrywer opgehelder kan word met ʼn geïnspireerde ligte oomblik nie? Nie dat mens enigsins spot met siekte of die dood nie, maar my ervaring is dat die menslike gees selfs in die diepste, donkerste ellende die behoefte aan humor het. Miskien juis dan, want dit is tog al bewys dat om te lag liggaamlike en geestelike genesing bring. In die saal waar pasiënte chemoterapie kry is die atmosfeer dikwels opgeruimd en word die stoutste grappe vertel.

Wat my lagspiere prikkel is die skerpsinnige opmerkings wat mense dikwels kwytraak, eerder as grappe wat ek in elk geval nie kan onthou nie of waarvan ek altyd die “punch line” opmors. Ek skryf dit neer en het al daarvan in my romans gebruik. Soms verspreek andertaliges hulleself of druk hulself moeilik uit en die juweeltjies wat hulle kwytraak is ook bruikbaar. Ek veronderstel skrywers van Engelse romans hou ook aantekeningboeke byderhand om ons flaters in neer te pen. Een skrywer wat ek raakgelees het, praat van haar “swipe file.” Is dit verkeerd om mense af te luister,  veral wanneer hulle luidkeels hul doen en late op hulle selfone uitblaker?

Een aand tydens ʼn algemene vergadering van die eienaars van ons deeltitelkompleks, het die deeltitelbestuurder die volgende kwytgeraak:

  • Wat daar aangaan, sal net hy nugter weet.
  • Ons was noodgedwonge gewees om …
  • Die opsigter is nog siek, maar Japie staan sy pos viervoetig in.
  • Omdat die Forum hom goeddoen vanaand, wil ek dit aan julle voorlê.
  • Hulle het hom steeds sy Augustus salaris toeverdien.

(Ek het kopiereg daarop, want ek het dit met my persoonlike ore aangehoor.)  🙂 En nou gaan ek gou viervoetig in my pos staan.

Hierdie resensie het in vandag in Rapport verskyn:

Verhoudings so broos soos fyn porselein

2012-04-14 12:41

 Foto’s   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto’s Stuur vir ons jou foto’s  ·  Stuur vir ons jou foto’s

Nini Bennett

Die kamer langsaan deur Annemari Coetser. Uitgewer: Lapa. Prys: R170

Uit Annemari Coetser se pen het Oop kaarte (2007), Langverlof (2008) en Aan die windkant (2009) al verskyn. In Die kamer langsaan, haar jongste roman, eksperimenteer sy met die verhouding tussen werklikheid en fiksie.

Die hoofkarakter, Donné, pak haar tasse ná ’n rusie met haar man, huur ’n meenthuis en besluit om haar debuutroman te skryf. Die eienaar van dié huis, Theresa, en haar 93-jarige ma, Susan, huur op hul beurt ’n kamer in ’n ouetehuis.

Donné se verbeelding word geprikkel: In haar roman skep sy ’n verbeelde werklikheid om Theresa en haar ma. Uit skinderbrokkies van ’n buurvrou kom Donné agter sy beweeg ontstellend na aan die waarheid.

Die roman is ’n deernisvolle kyk op ’n moeder-dogter-verhouding, huweliksontrou en depressie. Theresa meen sy is deur Susan gemanipuleer en het daarom nie met die liefde van haar lewe, Gerhard, getrou nie. Susan was op haar beurt weer ’n slagoffer van gesinsgeweld en het geglo sy tree in haar dogter se belang op deur haar teen mans te “beskerm” (en van Gerhard te vervreem).

Intussen smeek Donné se man haar om terug huis toe te kom. Deur tegnieke van inbedding word die grens tussen werklikheid en fiksie oorgesteek en beweeg die outeur seepglad tussen die verbeelde en reële karakters totdat die werk eindelik opgehef word as fiksie.

Die kamer langsaan word ’n simbool van die dood en Coetser waarsku dat mens moet waak teen morele oordele, want verhoudings is broos.

Deurlopend word kommentaar gelewer oor die skryfproses en skrywer-wees, dat sommige skrywers fyn waarnemers én voyeurs, is en dat skrywerskap omsigtigheid en integriteit verg.

Die kamer langsaan is ’n vars en eerlike roman. Dit is jammer dat die karakterontwikkeling van Susan effe eendimensioneel bly (die terugflitse na haar moeilike kinderjare op bl. 155-156 kon byvoorbeeld meer momentum gekry het in pas met haar latere selfsugtige optrede).

Coetser skryf nietemin humoristies en gevat, soos op bl. 151:

“Hy is een van die mees katoolse ou mans wat sy gesien het. Op sy dae was hy seker aantreklik, maar nou gril sy vir sy tande wat net hier en daar soos ’n mieliestronkmisoes in sy pienk tandvleise pronk.”

Die kamer langsaan is ’n toeganklike werk met heelwat pitkos.

Gieljam

Image

Gieljam in die golwe

Ek weet nie of iemand anders al ooit van G. Sutherland gehoor het nie, maar ek is mal oor sy boeke. My gunsteling is Gieljam in die golwe : ʼn roman. Dit is reeds in 1949 uitgegee.

Hy het die wonderlikste sin vir humor (gehad?) Verskeie van sy kortverhale het ook in tydskrifte verskyn. Toe my seun as tiener net so gaande oor hom was en ek gehoor het dat hy in Pretoria bly, het ek speurder gespeel. Die tweede Sutherland in die telefoonboek het my sy nommer gegee.

Hy was toe reeds bejaard en verskriklik ingenome daarmee dat ek hom gebel het. Ek dink ek het sy week gemaak. Skrywers is maar weerlose dierasies wat ‘n opregte kompliment waardeer.

Ek besit, behalwe Gieljam, ook Lenteliefde. Jaar van publikasie onbekend, maar daar is ʼn advertensie vir Calvita Gesigspommade op die eerste bladsy: Stel u gelaatskleur u gerus? vra hulle nuuskierig. Agter in die boek is ʼn advertensie vir Voorpos se skoonheidswedstryd en een vir ʼn Maandblad met Persoonlikheid,  Transafrika.

Avonture tussen mure is in 1979 deur Daan Retief uitgegee en dis juis met die lees daarvan dat my seun hom ook ontdek het.

ʼn Internetsoektog oor Sutherland lewer niks op nie. Weet enigiemand iets van hom? Ek sal wat gee om nog van sy boeke te lees.

(‘n Ander weergawe van hierdie skrywe het voorheen in Boekemakranka verskyn.)

Boererate

Vir my vorige boeke het ek navorsing gedoen. Om feite in te samel vir die historiese roman wat ek nou skryf, voel egter meer na ʼn speurtog. Die verhaal begin aan die einde van die negentiende eeu en eindig in 1944. Dus moes ek tjop-tjop ʼn hele klomp goed oor hierdie era uitvind, want ek is gelukkig om te sê dat ek darem nie in daardie tyd geleef het nie. 🙂

Boererate het my nog altyd geïnteresseer en ek gebruik daarom een of twee in ʼn toepaslike gedeelte van die manuskrip. My ma het ʼn ou resepteboek gehad waarop die woord “Lekkerkos” in kursiewe swart letters skuinsoor die rooi omslag gedruk was. Ek het grootgeword met hierdie boek en is nou die trotse eienaar daarvan.

As kinders het ons die boererate agter in die boek skreeusnaaks gevind. Hier volg die raad vir “Spelde geslik deur kinders.” Skynbaar was dit ʼn algemene tendens in 1931 vir kinders om spelde te “slik.” Die raad is waarskynlik steeds van toepassing op kleremakers met hierdie neiging.

“ʼn Speld word soms geslik deur kinders en die verpleging moet bestaan om die speld deur die ingewande te laat passeer. Met dié doel moet ʼn groot kwantiteit ertappels gegee word en nie ander voedsel nie, totdat die speld gepasseer het. Moenie purgeermiddels gee nie.”

Dit maak sin. Dit val my by dat Dirk Kamfer in sy boek Die Elfde Uur, in 1962 deur Tafelberg uitgegee, boererate uit mev. Dijkman se beroemde kookboek aangehaal het. Ek gaan soek die boek op my boekrak.

Image

Een boereraat lui:

Teen Wirms: Di aand tevore niks eet ni, om di wuirms uit te honger, dan smorrens op di nugter maag ʼn stukki brood in di mond neem, om hulle na bowe te lok, maar niks insluk nie; dan ʼn sopie brandewyn inneem om hulle dronk te maak; en dan ʼn jalap pergasi inneem om di wirms te lat uitwerk.”

Daaronder volg Dirk se kommentaar: Ghoebaai, wirms – julle het jul sleg laat verneuk!

My geërfde resepteboek het nie meer ʼn titelbladsy nie. Om die boek as bron in my manuskrip te aandui, lewer toe ʼn nuwe speurtog op. Gelukkig kom ek op die internet op ʼn artikel af in Die Beeld van 28 November 1996, geskryf deur Dr. Jan van Elfen, waar hy o.a. ou resepteboeke bespreek.

Daar lees ek toe vir die eerste keer my kosbare boek se volledige titel raak: Lekkerkos, kook-, koek-, resepte- en koekversierselboek deur ʼn Praktiese Huisvrou van Zastron. ʼn Hele mondvol. Dis in 1931 deur HAUM uitgegee. Die praktiese huisvrou was ene mev. Van Tulleken van Zastron.

Net waar sy plek kon kry, het my moeder in hierdie boek haar eie reseppies met ʼn “indelible” potlood geskryf. Tussen die praktiese tante se Raad vir Sweterige Voete en haar Geneeskundige Voorskrifte verskyn my ma se resep Vir Galsiek.

Ek wens ek het, toe ek onlangs te veel ryk kos geëet het, daaraan gedink om 1 koppie suiker, 1 gelling water, 1 koekie blousel en 1 bottel asyn te meng en te drink, maar ek vermoed die resep was vir iemand anders  bedoel.

 

Image

Om my gevoelens op papier neer te pen, is my belangrikste uitlaatklep. Onlangs ontdek ek weer  ʼn dagboek uit my kleintyd. “So baie jare is verby,” skryf ek dramaties op my dertiende verjaarsdag, net na die inskrywing van hoe ek saam met my broers albaster gespeel het.

Deur die jare het die gewoonte my duisende rande bespaar aan rekenings van sielkundiges, huweliksraadgewers en prokureurs, dit glo ek vas. Papier is mos geduldig. En deesdae kan vinnige vingers op rekenaartoetse trauma, woede en hartseer vlytig verwerk.

Die eerste keer toe my hart gebreek is, het dit  ʼn swart hardebandboek vol selfbejammering opgelewer. Dis aangevul met toepaslike aanhalings uit Sy kom met die sekelmaan en soortgelyke lydingsgeskiedenisse. Ek moes die dagboek verbrand toe my volgende kêrel op die toneel verskyn, want ek sou tot in my tone ineengekrimp van skaamte as hy dit sou sien.

‘n Besondere traumatiese tyd in my lewe het ʼn hele manuskrip opgelewer. Genadiglik is dit nooit gepubliseer nie, maar sedertdien het ek bruikbare stukke daaruit gekannibaliseer vir nuwe boeke. Net soos ʼn mens nie die presiese intensiteit van pyn kan onthou nie, so is jy soms by ʼn herlees verbaas oor hoe rou jou emosies was.

Was ek regtig so kwaad soos die aand toe ek in ʼn Word-dokument vuur gespoeg het? En die klagstaat van my naaste en liefstes se oortredings en tekortkomings wat ek verdoesel het tussen my administratiewe dokumente, was dit op die ou end so erg? Ek onthou dan nie eens wat gebeur het nie.

Die pen is nie net magtiger as die swaard nie. As jy so impulsief soos ek is, is dit ook verkieslik. Die enigste probleem is die dag wanneer ek vir altyd oorstap na die kamer langsaan. Miskien moet ek ʼn kodisil in my testament sit: verbrand al my dagboeke, breek my CD’s,  format my rekenaar en behou so julle beeld van my sagmoedigheid.

Of lees die goed, warrehel. Ons is almal net mense.

Die Kamer Langsaan

My nuutste boek, Die kamer langsaan, is nou beskikbaar. Ek het dit in Brooklyn se CNA op die rak gesien en ook in Exclusive Books.

 

Image

Dis vir my ʼn groot verrassing en ʼn nog groter lekkerte dat Die kamer langsaan gekies is as LAPA se Lekkerlit boek vir Maart.  (Die Lekkerlit-projek duur vir 10 maande; elke maand word ‘n boek gekies en op die webwerf bespreek. Daar gaan ook vrae vir Leeskringe wees. Lesers kan ‘n kompetisievraag oor die boek beantwoord en elke maand R1 000 wen. Na die 10 maande stem lesers vir die beste lekkerlit-boek van die jaar.  Die wen-boek se outeur ontang R10 000, en een leser wen ook R10 000.)

Gaan kyk gerus op LAPA se webwerf wat daar alles aangaan. http://www.lapa.co.za

In Maart se Rooi Rose verskyn dit ook as die boek van die maand. Ek is baie opgewonde oor hierdie boek. Die omslag is pragtig en sal aandag trek op boekwinkels se rakke. Nie alleen is die tema ʼn bietjie ernstiger as my vorige boeke nie, maar die aanloop na die skryf daarvan was moeiliker. ʼn Mens sou dink dat ek al ʼn bietjie gekonfyt sou wees om kontrasterings in ʼn roman te gebruik, want ek het dit ook in Oop Kaarte gedoen. Maar elke nuwe boek bring nuwe uitdagings.

Ek het voorheen geskryf oor die NaNoWriMo-projek waaraan ek deelgeneem het. (National Novel Writing Month, ʼn poging om ʼn roman van ten minste 50 000 woorde in die maand November te voltooi saam met duisende ander skryflustiges van oor die hele wêreld.) Die kamer langsaan se plot was reeds klaar. Dié het ek baseer op The snowflake method, uitgedink deur Randy Ingermanson. (http://www.advancedfictionwriting.com/art/snowflake.php)

Dit klink alles baie tegnies, maar Randy se metode werk uitstekend. Toe moes ek nog gedurende die volgende jaar die finale skaafwerk doen. Asof dit so maklik is! Baie twyfel, moedeloosheid, redigering en herskryf later, is die finale produk eindelik klaar. Ek hoop julle sal die roman geniet. Onthou om Maartmaand se kompetisievraag te beantwoord.

Te Dam te Dam

Aangesien dit die plek is waar ek veronderstel is om die groot trom te slaan, maak ek dit maar  bekend. Ek het gister die kontrak geteken vir my nuutste boek, wat in Februarie 2012 by LAPA gaan verskyn! Die titel is Die Kamer Langsaan.

Reeds op 13 Julie 2009 het ek ‘n Word-dokument geskep.  Begin-idees, rondgetjommelry, was die naam.”  Baie literêr. Toe het ek die  basiese plot vir die boek uitgedink en getik en ook allerhande toepaslike aanhalings daarby geplak wat veronderstel was om my tydens die skryfproses te inspireer. Dit het nie, want ek het skoon vergeet om weer daarna te kyk.

Daarna het ek karakters geskep, foto’s in tydskrifte gesoek wat naastenby soos my karakters sou lyk, navorsing gedoen, tyd gemors en basies aanhou tjommel tot November 2009. My stief-skoondogter neem jaarliks deel aan NaNoWriMo (National Novel Writing Month) en sy het my daarvan vertel. Jy begin op 1 November en teen middernag op 30 November moet jy ten minste 50 000 woorde geskryf hê. Jy word heeltyd aangemoedig, opgesweep en gedreig om klaar te maak. Daar is selfs groepe in verskillende dorpe en stede (ook in Suid-Afrika) waar mense bymekaarkom om oor hulle manuskripte te praat en mekaar oor ‘n glas wyn, of iets sterker, te bemoedig of te inspireer. Persoonlik dink ek is dis beter om tuis te bly, jou neer te plak en te skryf, maar die seker maar my bababoemerigheid wat uitslaan.

So neem ek toe my voorlopige getjommel, plak my neer in November 2009, skryf meer as 50 000 woorde en verwerf ‘n sertifikaat van die NaNoWriMo ouens in die VSA. Whoopee!

Dit het nog ‘n goeie nege maande geneem voor ek  die manuskrip vir LAPA  se  Romankompetisie van 2010 ingestuur het.

En toe bereik die kindjie wasdom en word vroeg volgende jaar gebore! Dis ‘n baie lang proses. Dis baie harde werk. En dis hoekom ek die afgelope tyd so skaars was hier op die blogs.

Verskoon my. Ek gaan drink sommer ‘n glas wyn daarop – of iets sterker!

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg