Vir my vorige boeke het ek navorsing gedoen. Om feite in te samel vir die historiese roman wat ek nou skryf, voel egter meer na ʼn speurtog. Die verhaal begin aan die einde van die negentiende eeu en eindig in 1944. Dus moes ek tjop-tjop ʼn hele klomp goed oor hierdie era uitvind, want ek is gelukkig om te sê dat ek darem nie in daardie tyd geleef het nie. 🙂
Boererate het my nog altyd geïnteresseer en ek gebruik daarom een of twee in ʼn toepaslike gedeelte van die manuskrip. My ma het ʼn ou resepteboek gehad waarop die woord “Lekkerkos” in kursiewe swart letters skuinsoor die rooi omslag gedruk was. Ek het grootgeword met hierdie boek en is nou die trotse eienaar daarvan.
As kinders het ons die boererate agter in die boek skreeusnaaks gevind. Hier volg die raad vir “Spelde geslik deur kinders.” Skynbaar was dit ʼn algemene tendens in 1931 vir kinders om spelde te “slik.” Die raad is waarskynlik steeds van toepassing op kleremakers met hierdie neiging.
“ʼn Speld word soms geslik deur kinders en die verpleging moet bestaan om die speld deur die ingewande te laat passeer. Met dié doel moet ʼn groot kwantiteit ertappels gegee word en nie ander voedsel nie, totdat die speld gepasseer het. Moenie purgeermiddels gee nie.”
Dit maak sin. Dit val my by dat Dirk Kamfer in sy boek Die Elfde Uur, in 1962 deur Tafelberg uitgegee, boererate uit mev. Dijkman se beroemde kookboek aangehaal het. Ek gaan soek die boek op my boekrak.

Een boereraat lui:
“Teen Wirms: Di aand tevore niks eet ni, om di wuirms uit te honger, dan smorrens op di nugter maag ʼn stukki brood in di mond neem, om hulle na bowe te lok, maar niks insluk nie; dan ʼn sopie brandewyn inneem om hulle dronk te maak; en dan ʼn jalap pergasi inneem om di wirms te lat uitwerk.”
Daaronder volg Dirk se kommentaar: Ghoebaai, wirms – julle het jul sleg laat verneuk!
My geërfde resepteboek het nie meer ʼn titelbladsy nie. Om die boek as bron in my manuskrip te aandui, lewer toe ʼn nuwe speurtog op. Gelukkig kom ek op die internet op ʼn artikel af in Die Beeld van 28 November 1996, geskryf deur Dr. Jan van Elfen, waar hy o.a. ou resepteboeke bespreek.
Daar lees ek toe vir die eerste keer my kosbare boek se volledige titel raak: Lekkerkos, kook-, koek-, resepte- en koekversierselboek deur ʼn Praktiese Huisvrou van Zastron. ʼn Hele mondvol. Dis in 1931 deur HAUM uitgegee. Die praktiese huisvrou was ene mev. Van Tulleken van Zastron.
Net waar sy plek kon kry, het my moeder in hierdie boek haar eie reseppies met ʼn “indelible” potlood geskryf. Tussen die praktiese tante se Raad vir Sweterige Voete en haar Geneeskundige Voorskrifte verskyn my ma se resep Vir Galsiek.
Ek wens ek het, toe ek onlangs te veel ryk kos geëet het, daaraan gedink om 1 koppie suiker, 1 gelling water, 1 koekie blousel en 1 bottel asyn te meng en te drink, maar ek vermoed die resep was vir iemand anders bedoel.

Written
on April 25, 2012