Diesel, anderkant die reënboogbrug

Rus in vrede, ou Diesel, hierdie aardse lewe van jou is verby.

Dit was swaar om jou laaste maande saam met jou deur te maak. Die veearts het medisyne gegee, maar daar is nie eintlik raat vir die ouderdom nie. As dit van my afgehang het, het jy lankal daardie genadige inspuiting gekry. Maar jou “pa”, my liewe skoonseun, kon dit nie oor sy hart kry nie en soos my kind met haar diep insig opgemerk het, wanneer P tuis was, het jy opgekikker en heelwat beter gelyk as wat jy eintlik gevoel het. Dan het jy oudergewoonte op sy skoot gaan lê en soos ‘n jong kat gespin …

Jy het orals plassies gelos; soms hartverskeurend gemiaou, soos ‘n besetene aan jouself gekrap dat die pluise kathare in die lug rondvlieg, uiteindelik maar net heeltyd bo-op die hoë rugleuning van die leunstoel gelê, nadat jy en ek ‘n hewige stryd om beheer van daardie stoel gevoer het – ‘n stryd wat jy uiteindelik oortuigend gewen het en waartydens die mooi staanlamp van die tafel afgeval het en ‘n yslike stuk van die staander se blou glas afgebreek het toe ek jou met ‘n stoelkussing probeer verwilder het. Ek en die baba wat ek bedags vir V se vriende oppas, moes toe maar druipstert na die rusbank verkas.

Vanoggend vroeg, toe ek nat kos uitdeel, was jy nie daar nie. Die rugleuning van die leunstoel is leeg en ek wil nie eens op daai stoel gaan sit nie. Gistermiddag het die bure in die oorkantste straat se ou swart kat, genaamd Vader na die Darth van Star Wars, op ons vensterbank kom sit en na binne getuur, kompleet asof hy simpatie wou betuig. Gisteraand het my kinders half verwese op die bank gesit …

Rus in vrede? Nee, hardloop liewers op groen gras, lê in warm sonkolle en sagte koelte anderkant die reënboogbrug en stuur vir Skoonlief groete van haar nooi.

Image

New York, New York …

Ons staan 2:00 op om na Greenville se lughawe te ry, vanwaar ons ‘n vlug na LaGuardia, New York haal. Drie dae se mallemeule volg, die een indruk na die ander …

Dis koud …

Die groenbruin, klotsende golwe van die Hudsonrivier – met New York se asemrowende geboue op die agtergrond.

Image

Die Hungry Llama maak lekker warm chai-tee, maar dit bly koud …

Image

19de-eeuse Franse skilderkuns in die Metropolitan Museum; loodglas; antieke beelde.

Dis so baie koud …

Image

Die “hop on, hop off”-bus en die manier waarop die busbestuurder ontdooi toe V haar komplimenteer oor haar bestuursvernuf in die rasende verkeer.

Times Square, waar ‘n gesofistikeerde fondsinsamelaar ons “hassle” en my “Queen Mom” doop.

Image

Dallas Barbecue, met die lekkerste “pulled pork sandwich ‘n coleslaw” – hier is die uitsig deur die venster:

Image

Broadway-vertonings: een aand Aladdin en die volgende aand Hadestown, ‘n hoogtepunt! Die vertonings begin 19:00 en so teen 22:00 wemel die sypaadjies van die mense – daar is ‘n voelbare ligtheid van gees danksy die verskeidenheid vertonings wat hulle sopas kon beleef.

Image

Die New Yorkers: beroepslui uitgevat in duur jasse en mooi stewels, haastig op pad na waar ook al; werkers wat vrolik oor en weer roep terwyl hulle verbreek en bou; vriendelike pizzasjefs; verveelde “dog walkers” met vier/vyf honde aan leibande in Central Park; uitgeputte pendelaars …

Atlanta, Georgia

Twee dae voor Kersfees kom my broerskind Maja by ons aan uit Nieu-Seeland om ‘n maand lank in die VSA by haar niggie V, dié se man P, en haar “Tannie Cicca” te kuier. Sy het sopas haar graad in Verpleegkunde behaal en gaan in Februarie 2026 by Ongevalle in ‘n Aucklandse hospitaal begin werk. Tien jaar gelede was sy ‘n middelskooldogtertjie, saam met wie ek eende in ‘n Nieu-Seelandse stroompie gevoer het. Nou het sy ontluik in ‘n pragtige, sjarmante, bedagsame jongmens, wie se gelaatstrekke my aan my broer herinner en met grysblou oë, ‘n samesmelting van my broer en sy Hongaarse vrou se oogkleure.

V se bewonderenswaardige talent vir beplanning en organisasie skop in en ‘n maand se opwinding volg, waartydens die uwe haar lyf toeris kan hou en orals heen kan saampiekel. Ons eerste groot avontuur is drie dae in Atlanta, die hoofstad van Georgia, so drie en ‘n half ure se ry van ons af. Die stad het besondere mooi geboue, ‘n mengsel van wolkekrabbers en geskiedkundige geboue wat goed onderhou word.

Hier is byvoorbeeld ‘n treffende bronsbeeld van ‘n arend (waarskynlik die “bald eagle”) voor die Federal Reserve Bank, geskep deur die Amerikaanse beeldhouer Elbert Weinberg. Dit weeg 3 300 pond (1 496 kg) en staan bo-op ‘n pilaar wat 48 voet (14 m) hoog is, een van vyf pilare wat van die vorige gebou af saamgebring is en nou voor die nuwe gebou pryk.

Image

Ons bly in ‘n “pet-friendly” hotel in die hartjie van die universiteitsdistrik, maar dit is nog wintervakansie, met die gevolg dat die omgewing veel stiller as gewoonlik is. Die Amerikaners se spontane vriendelikheid bekoor my nog steeds: Vroeg daardie eerste aand vat ons my kinders se hond Honey om te gaan stap en ‘n verbyganger steek vas, vra of die hond vriendelik is, en krap haar agter die ore, duidelik ‘n hondeliefhebber. Dis Vrydagaand en hy is op pad iewers heen, netjies uitgevat en met die skoonste skoene wat ek in jare gesien het.

Later die aand besluit ons om die reën te trotseer en na die kersliggies in die botaniese tuin te gaan kyk – P bly by Honey in die hotel. V bestuur m.b.v. die GPS en slaag terselfdertyd daarin om per selfoon kontak te hou met Maja, wat besluit het om in ‘n wildvreemde grootstad, in die donker en in die reën, op ‘n gehuurde scooter na die tuin toe te ry! Ons laat haar begaan, want soos V sê, “sy maak nou ‘n wonderlike herinnering”, maar ek slaak ‘n sug van verligting as ons almal behoue by die tuin aankom. Dit reën sulke vet druppels en ons skoene is gou deurnat, maar die liggies en musiek is so pragtig dat ons nie eens omgee nie.

Saterdagoggend gaan eet ons wafels by die Waffle House en dié plek steel my hart, want hulle het “hot tea”! V besluit om by Honey te bly terwyl ons ander drie die Georgia Akwarium en die Coca-Cola Museum gaan besoek. Dit is die tweede keer dat ek so bevoorreg is om die akwarium te besoek, ‘n uiters gewilde en baie besige plek. Op ‘n stadium gaan sit ons voor ‘n tenk vol pragtige veelkleurige visse, met ‘n glasvenster wat van die grond tot teen die plafon strek. Die visse swem almal in een rigting en die mense stroom almal in die teenoorgestelde rigting verby: Hierdie plek is nie net ‘n akwarium nie, dit is ook ‘n “humanarium” 😉

Daarna stap ons na die Coca-Cola Museum wat net langs die akwarium geleë is. Ons het groot pret met ‘n toep wat ‘n foto neem en daardie foto dan as ‘n spesifieke karakter inklee – hier is die “Socialite”:

Image

… en die “Traveller”:

Image

Ons proe tientalle geure koeldrank wat in Coca-Cola se laboratorium ontwikkel is. P soek na Cream Soda, want hy weet dis V se gunstelinggeur en hy wil haar graag wys dat sy moes saamgekom het, maar al wat daar is, is rooi (!!) Cream Soda en P sien onmiddellik af van daardie plan. Uitgeput kom ons by die hotel aan en rus so ‘n bietjie, want Maja het vir ons kaartjies gekoop om vanaand na die Cirque du Soleil se vertoning Luzia te gaan kyk.

Om ‘n vertoning van Cirque du Soleil te sien, is al 23 jaar lank ‘n droom van my en toe word die droom bewaarheid. Herinneringe aan my kinderjare, toe my pappie ons gereeld sirkus toe geneem het, maak die ervaring bittersoet. Daar is ‘n rêrige orkes en ‘n sangeres met ‘n goddelike mooi stem. Die akrobate is asemrowend en die narre is gesofistikeerd snaaks. Op ‘n stadium stap ‘n groot jaguar oor die sirkel – maar dit is ‘n robot, nie ‘n werklike dier nie. Dit is ‘n aangrypende oomblik, ‘n huldeblyk aan al die vergange sirkusdiere wat – soms onder haglike omstandighede – die mense moes vermaak.

Sondagoggend vat V ons na ‘n koffiekroegie toe wat sy die vorige dag op haar eie ontdek het, waar Honey ook welkom is. Ons eet heerlike soetgebak vir ontbyt, gaan stap dan vir oulaas deur die stadstrate voordat ons die terugtog na Greenwood toe moet aanpak. Ons stap verby die herehuis wat P vroeër op ‘n stappie met Honey ontdek het, destyds in woonstelle verdeel, waar Margaret Mitchell haar onvergeetlike roman “Gone with the Wind” geskryf het.

Image
Image

Die strate is stil en ‘n liedjie uit my “Sturm und Drang”-jare dwaal in my kop.

Maar die wroeging van alleenwees is vanoggend ver van my af, want ek is deel van “ons” in Atlanta.

2025

Die Amerikaners het ‘n tradisie om ‘n Kersfeesbrief te skryf, wat hulle by ‘n kerskaartjie insluit, waarin hulle ‘n oorsig van die afgelope jaar gee, sodat familie en vriende weet wat die hoogtepunte was. Hier is my Kersfeesbrief:

2025 was ‘n eienaardige jaar. Vroeg in Januarie was daar sneeu in die “warm” winter van South Carolina.

Image

Begin Maart is ek terug Suid-Afrika toe om met die tweeling, Joshua en Gabby se nuwe sibbetjies, te gaan help. Hulle is op 31 Maart gebore. My kosbare skoondogter het na die babatjies omgesien en ek het huisgehou. (Ook maar goed dat ‘n mens gewoonlik betreklik jonk is wanneer jy ‘n huisvrou moet wees.) Voor ek SA toe is, het ‘n Amerikaanse vriendin vir my hierdie e-kaartjie gestuur:

Image

Na ses maande van chaos en kleinkinderliefde het ek teruggekeer na die rustige heenkome van my dogter en skoonseun se huis in die VSA. Die verlange na Gabby, Joshua en die tweeling Lana en Luca was ‘n benoudheid in my hart, maar – soos altyd! – is daar vir my troos gestuur, naamlik ‘n prenteboekmooie baba.

Klein Theodore is op 15 Julie gebore en in September het my dogter hom bedags begin oppas, want sy mamma moes terug kantoor toe. ‘n Babalyfie om vas te hou! Malherbe skryf: “Sag op haar bloue oë daal die vaak …” Wel, die vaak gryp vir klein Theo en maak dat sy ogies omdop net voordat hy aan die slaap raak – dit bly vir “Ouma” ‘n bron van vermaak. Sy geredelike glimlaggie maak selfs die grysste wintersdag vol sonskyn.

‘n Lewensles wat ek sowaar nou nog nie geleer het nie, is: “Van uitstel kom afstel”. Uitstel het veroorsaak dat ek my kosbare stoepvriend nie eers een keer gesien het terwyl ek in SA was nie – so ook ‘n vriendin wat my lewe nog altyd op besonderse maniere verryk het. Woordnoot en ek sou ook nog gekuier het … Gelukkig het ek darem heelwat wonderlike oomblikke van warmte en omgee beleef: die verwelkomings- en afskeidsdrukkie wat ek by ons dominee gekry het; die opregte meelewing van my susters in Christus; die dag toe Hester Ley Nel die bloggers opgekommandeer het om te kuier; die sonnige teedrinkoggend saam met Toortsie; afsonderlike kuiers saam met my drie vriendinne wie se name aldrie met ‘n M begin; die dag toe een van die M’e vir Laatlam se huishouding ‘n splinternuwe wasmasjien laat aflewer het; en nog vele meer.

Terug in die VSA is ek weer eens met drukkies verwelkom – en my skugter kat Smokey het oudergewoonte op my skoot geklim, gekwyl en gespin terwyl sy haar kennetjie dan links, dan regs teen my wange skuur. My kind het ‘n huisvol vriende opgekommandeer om my mylpaalverjaarsdag wat stil-stil in SA verbygegaan het, te vier – dit was ‘n volslae verrassing. Haar vriendin se leefarea was vol ballonne (o.a. van daardie goue syfers wat my skrikwekkende ouderdom uitgespel het vir almal om te sien 🙄) en daar was ‘n reusekoek wat tot op die laaste krummel opgeëet is.

Image

Die jaar was eintlik vol hoogtepunte, maar die blye herkenning op ‘n seun in die VSA se gesig voordat hy alles waarmee hy besig was, gelos het om my te kom groet, was die heel, heel beste oomblik.

Hilton Head Island

Die oggend na Halloween sukkel ek om die swart naelpolitoer van my naels af te kry, want ons gaan nou op reis: vier ure se ry om by die kus van South Carolina uit te kom, in die “Lowcountry” by Hilton Head Island, waar P&V die Sondag as verteenwoordigers van Connie Maxwell Children’s Ministries ‘n kerkdiens gaan bywoon om die kinderhuis bekend te stel en steun te werf.

North en South Carolina is vernoem na die Britse koning Charles II wat van 1660 tot 1685 regeer het en Kaptein William Hilton met sy skip die Adventure gestuur het om die eiland se omgewing te gaan verken. Daar word bespiegel dat die eiland reeds tienduisend jaar gelede deur mense bewoon was. Die Spanjaarde het in 1526 hier ‘n nedersetting gevestig, maar dit het net ‘n kort rukkie bestaan en daar is nie veel daaroor bekend nie. Op Hilton Head Island was daar voor die Civil War ‘n “plantation” wat katoen, indigo en rys verbou het.

Ons ry deur myle en myle se hoë bome, deur klein dorpies waar die ontvolking van die platteland maar al te sigbaar is. Uiteindelik bereik ons die kus, waar die gebruiklike Amerikaanse welvaart weer duidelik blyk. P en Middelkind betrek ‘n reusagtige sportwinkel, waar laasgenoemde ‘n stel gholfstokke uitsoek waarmee hy die middag gaan speel en wat hy gaan saamvat huis toe, na Ierland toe.

Ons gaan eet almal saam in die klubhuis van die gholfbaan en dan maak die manne spore na die putjies toe. Ons akkommodasie is eers later die middag beskikbaar en ek en V besluit om in die klubhuis se restaurant te bly sit, sy met haar storieboek en ek met my rekenaar, wat ek op die nippertjie saamgevat het en waaroor ek nou innig dankbaar is. So kom dit dat ons in die middel van die prysuitdeling van ‘n gholftoernooi beland, met tientalle jolige Amerikaners om ons, besig om hulle kospakke te verorber en bier te drink. Niemand steur hulle aan ons nie, elkeen doen sy eie ding en almal is gelukkig. Die volume raak hoe later hoe harder en die pryswenners word luidkeels toegejuig. Geleidelik verkas die manne huis toe en uiteindelik is dit weer net ons twee en rustige stilte, behalwe vir die enkele werkers wat hulle alledaagse gang gaan. Teen vyfuur kom ons gholfspelers aangestap, moeg en tevrede na ‘n heerlike middag, en ons ry na ons verblyf vir die nag.

Skemertyd gaan verken ons die eintlike eiland, wat via ‘n breë motorweg bereik word (die eerste brug na die eiland is in 1956 gebou; voor dit kon die eiland net per veerboot bereik word). Die oostelike aandlug is pêrel en pienk; die stil, uitgestrekte see dein ver onder ons. Later ry ons na ‘n restaurant wat volgens V se navorsing die moeite werd is. Dit is binne ‘n eksklusiewe woonkompleks geleë en ons moet $9 betaal om daar in te ry. Die restaurant bestaan uit twee dele: die een binnemuurs; die ander een onderdak, maar sonder mure, net deur ‘n sloot met welige strandplantegroei van die strand geskei.

Omdat die aand koel is, gaan sit ons binne – daar is lapservette op die tafels; ‘n rustige, gemoedelike atmosfeer; en die gaste is duidelik welvarend. Ons kelnerin se naamplaatjie sê sy kom van Jamaika af en omdat ‘n orkaan ‘n paar dae vantevore dele van daardie eiland verwoes het, vra P met sy gebruiklike medemenslikheid of haar mense veilig is – sy weet nie, het nog nie van hulle gehoor nie. Toe P die tafelgebed doen, hou ons ook haar hande vas en P bid vir haar mense. Na ‘n heerlike maaltyd klim ons met ‘n houttrap oor die sloot en die plante en V, wat eintlik die siel van ‘n meermin het, dartel in die donker oor die sand tot by die see se skuimrandgolfies.

Sondagoggend gaan laai Middelkind vir P&V by die kerk af waar hulle gaan skakelwerk doen en na ontbyt ry hy en ek weer na die eiland toe. Die seefront is pragtig ontwikkel, met silwerskoon paaie en sypaadjies en gerieflike sitplekke orals. Met sy gebruiklike waarnemingsvermoë merk Middelkind op dat daar waarskynlik ‘n “klein army” is wat die omgewing so skoon hou. Ons gaan stap ‘n entjie op die strand – fyn, styfgepakte wit sand, sterk wind en ‘n pêrelagtige lig. Dan gaan sit ons net langs die strandgebied op ‘n groot houtswaaibank vanwaar ‘n mens die voetverkeer kan dophou: lawwe tieners, gesinne, enkelinge, mense met honde …

Daar is voorbereidings vir ‘n regatta: die seilbote maak ‘n ry aan die waterkant en ondersteuners skrop nes op seilstoele, met proviand vir die dag byderhand. Die Stars ‘n Stripes wapper in die wind en die volgende oomblik speel die VSA se volkslied, The Star-Spangled Banner. Ek sal nooit weet of dit ‘n opname was, of ‘n werklike sopraan wat iewers op die strand staan en sing het nie, maar dit is ‘n pragtige, aangrypende lied, en ek staan tot aan die einde – tot Middelkind se stille verleentheid.

Toe ry ons op Middelkind se voorstel na die Harbour Town Lighthouse en my kind bevestig maar net weer dat hy die meester van wonderlike uitstappies is. In die loop van die oggend het ek hom vertel van Pat Conroy se lieflike boek Beach Music, waarin die skrywer ‘n vrou se vurige rentmeesterskap van die loggerhead turtles beskryf – die ou groot reuse wat langs hierdie kuslyn hulle eiers op die strand kom lê. Dan moet die babatjies ‘n gevaarlike stuk sand navigeer voordat hulle see-in kan swem. Jouwaarlikwaar – in die winkeltjie op die grondvloer van die vuurtoring is daar ‘n ry van Pat Conroy se boeke en ek kom agter dat hy as jong onderwyser op die naburige Daifuskie-eiland skoolgehou het. Ons is by die strand wat hy so meesterlik beskryf in Beach Music! Ons klim die steil trap, al in die rondte, al in die rondte, en verkyk ons aan die pragtige uitstallings.

https://harbourtownlighthouse.com/museum/

In die klein hawetjie lê luukse seiljagte en van die oop balkon op die tiende vlak van die vuurtoring sien ‘n mens die Harbour Town Golf Links uitgestrek lê – op die agtiende putjie gebruik spelers glo die vuurtoring as ‘n riglyn om daardie ontwykende hole-in-one te probeer regkry. Toe Charles Fraser in die middel van die twintigste eeu met sy besondere visie die hawegebied ontwikkel het, het hy enkele groot immergroen eikebome (“live oaks”) teen groot koste behoue laat bly. Ons stap terug na die kar toe en bewonder die ou bome, skilderagtig met Spaanse mos behang. Dis tyd om die ander twee te gaan oplaai en die terugtog na die binneland aan te pak.

Thanksgiving 2025

Die groot sedanmotor gly by die oprit in, hou stil en die gesinnetjie klim uit:

Katherine, met haar mooi groen oë, lang ligtebruin hare en sjarmante “Southern drawl”; Noah, die voorskoolse “hellion” (sy ma se woord, nie myne nie) met sy krulkop en intense donkerbruin ogies; Casey, die groot, sterk pappa wie se swart hare nie vandag deur die gebruiklike “ball cap” verberg word nie; en –

klein Theo, die prenteboekbaba met sy geredelike glimlaggie (vier maande oud; weeksdae kom kuier die outjie by my terwyl sy mamma moet werk). Ek verkyk my aan sy feesdaguitrusting: ‘n donkerbruin ferweelpakkie (wat die Amerikaners ‘n “onesie” noem) met ‘n puntkragie en – die hoogtepunt! – ‘n breë wit koordband wat strek van armpie tot armpie, met drie. veelkleurige. kalkoene. wat oor sy borskassie dans.

Dis hulle laaste stop voordat hulle huis toe gaan, nadat hulle heeldag die rondte van Vader Cloete gedoen het by ma en pa se families. My kinders is op ‘n welverdiende plesiervaart in die Bahamas, dus het Katherine besluit om haar oor my te ontferm. Ek kry ‘n yslike bord kos (ham, brusselse spruitjies, wortels, twee soorte “biscuits” wat eintlik ‘n soort skonbedryf is, pampoen met ‘n malvalekkerbolaag en die alomteenwoordige “mac ‘n cheese”) plus nagereg (speserykoek met karamelversiering en ‘n “choc chip cookie” wat drie keer groter is as wat enige soetkoekie behoort te wees).

Die kos was heerlik, maar die grootste lekkerte was die geselskap.

Image
Photo by Tomas Anunziata on Pexels.com

Pret in die VSA

Soms werk alles net saam: tyd, plek en omstandighede, sodat ‘n mens vreugdevolle dae gegun word, sowel innig as uitspattig.

Middelkind kom uit Ierland om ‘n vergadering in Boston by te woon en daarna kom kuier hy by sy sussie en haar man in Greenwood. Min het ek kon dink, toe ek destyds van die passasiersitplek agtertoe geklim het om op ‘n lang reis ‘n fisiese buffer tussen twee bakleiende kinders te vorm, dat die twee eendag sulke goeie vriende sou wees.

Omdat haar boetie op Halloween arriveer, beplan V dat ons as die Addams family gaan opdres om saam met die seuntjies van die cottage te stap op ‘n Trick or Treat-ekspedisie: sy en Paul gaan Morticia en Gomez wees, ek kry die gesogte rol van Wednesday en haar boetie sal Pugsley vertolk. Sy bestel rêrige kostuums op Amazon, en ek vraatkyk altwee seisoene van die TV-reeks waarin Wednesday die hoofkarakter is om vir my rol voor te berei. Honey die hond kry ‘n opgeblaasde wit latexhandskoen aan haar halsband – sy stap saam as Thing (die afgekapte hand wat Wednesday oral vergesel deur op sy vyf vingers rond te krabbel – ja, ek weet, grillerig verby).

Image

Ons gaan stap in ‘n nuwe buurt waar ‘n ontwikkelaar dubbelverdiepinghuisies gebou het wat soos pophuise lyk. Daar is nog nie bome nie, maar die herfskleure van die omringende woud se hoë bome gloei in die skemerlig. By amper elke huis brand daar lig, die teken dat die inwoners aan Trick or Treat deelneem. In party tuine is daar geraamtes en spinnekoppe. Die heel beste is die geanimeerde “Grim Reaper”, 6 voet hoog, met rooi ligte en ‘n skrikwekkende stem.

Image

Ons geselskap bestaan uit die Addams familie, ‘n bofbalspeler, die bofbalspeler se ma, in ‘n swart blinkertjiestrui en ‘n pers romp met swart spinnerakpatrone, twee footballspelers, ‘n opblaashaai, twee karakters uit videospeletjies en die ander huisouerpaar in hulle rêrige skeidsregterklere, met fluitjies-om die nek. Soos wat ons verder stap, raak die seuntjies se sakke lekkergoed al hoe voller. Die atmosfeer is gemoedelik, die mense vriendelik, en die oudste Wednesday van alle tye geniet haar gate uit!

Image

Joshua 2025 (9)

Joshua speel obsessief Minecraft op die foon wat hy vir homself met sy verjaarsdaggeld gekoop het. Ouma dink nie dis goed vir die outjie nie …

Toe raak hy saans bang en kom kruip dan aan die anderkant van die dubbelbed by ouma in.

Die kind het vanjaar te veel moeilike goed moes verwerk: Eensklaps is hy die middelkind in plaas van die jongste; sy mamma, aan wie sy hele hart verknog is, het haar hande vol met die twee nuwe babas (ofskoon sy steeds tydjies afknyp vir Josh); sy oupa Jimmy is oorlede; sy beste maat is na ‘n ander skool geskuif; en nou is sy ouma ook nog terug na haar veraf huis toe. Sy mamma stuur vir haar ‘n foto: Joshua, opgekrul aan sy kant van die dubbelbed met ‘n blou kombersie in sy arms opgebondel, met die byskrif: “Hy klou die kombersie wat ouma vir hom gegee het.”

Vanoggend is daar ‘n WhatsApp-boodskap van Joshua met ‘n foto van sy swart-en-wit kat: “Ek dink albert mis vir jou baie”.

Ouma se hart breek stadig en pynlik.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg