Ek hoor baie keer mense sê dat hulle beter dinge het om te doen as om op sosiale media rond te lê.
Natuurlik moet mens jouself beperk. Dis maar so met alles in die lewe.
Sommige mense geniet ʼn glasie wyn. Ander sommer ʼn hele bottel of meer op ʼn slag. Jy weet mos, dis daai wynvlieë waaroor mense so kan skinder…
ʼn Tjokkie af en toe is heerlik, ʼn plak op ʼn slag beteken moeilikheid. GROOT moeilikheid as mens presies moet wees.
Matigheid en oordeel is dus die antwoord.
Ek hou van Facebook. Dit gee my geleentheid om vir mense ʼn kykie te gee van wie ek is. Dit skep konneksies vir my met mense wat eendersdenkend is. Dit gee vir my geleentheid om toegang te hê met mense wat ek as kind laas in persoon gesien het.
Ek kom uit ʼn groot gesin met hegte bande. Met WhatsApp groepies en individuele gesprekke kommunikeer ons op ʼn daaglikse basis oor die wye wêreld heen.
Gisteraand kry ek ʼn boodskap van my ousus dat daar ʼn geskenk is vir my, by haar.
My pa se niggie Heleen het vir ons susters elkeen ʼn pragtige doilie gehekel en sy het dit tot by my sus gekry wat dit vir ons moet uitdeel.
Wat ʼn verrasing! Al die doilies wat ek gehad het, het saam met my huis verbrand en ek het nooit weer een gehad nie.
Verseker gaan ek dit gebruik. Dis baie spesiaal vir my. Baie dankie.
En dan kan ek dit vir my kleinkind eendag gee en vir haar sê dis met liefde gemaak vir haar Ouma deur haar oupagrootjie Hansie se niggie Heleen, dogter van oom Dais en tannie Miem Pretorius.
Ken jý jou eie niggies?
Danksy sosiale media soos Facebook en WhatsApp het ek kontak met familie baie verder as net direkte familie en dit maak my lewe soveel ryker.
In die afgelope paar weke het ek soveel geleer van geduld dat ek al amper ʼn ekspert is. Verbeel jou dit… ek, besige by, is ʼn kundige op die gebied van geduld. Gmff.
Nou hoe nou? Hoe op Aarde leer jy vir ʼn besige by geduld. Maklik. Jy vat ʼn stomp mes en sny haar vlerkies af. Saag en saag bietjie vir bietjie tot die vlerkies met ʼn laaste senuwee trilling grond toe val. Dan verander sy in ʼn groot, pap albino axolotl wat wriemel op die grond.
In Julie verlede jaar het ek ʼn boogskietbesering opgedoen in Zambië tydens die Afrika Veldkompetisie. Een verkeerde beweging. Een.
Dit was nie ʼn oombliklike pyn nie. Maar pyn genoeg om medikasie te drink en my bloeddruk die hoogte te laat inskiet van angs. Die mediese tent kon niks vir my doen nie, ek het op daardie stadium self gedink dis maar ʼn spier wat sleg getrek het, net my bloeddruk gemeet en toegesien dat ek pynmedikasie drink. Dit het ek in elk geval by my gehad.
My vriendin het gemasseer en anti-inflammatoriese plakkers se reuk het my omgewe om die kompetisie te voltooi die volgende dag.
Tuis het die rus-proses begin. Toe dit na die rus-proses nie beter word nie, maar seerder, is ek dokter toe. Asseblief – skryf vir my ʼn briefie vir ʼn afspraak by ʼn ortopeed wat dadelik ʼn MRI, aangevra het.
Dit was toe ongelukkig nie net ʼn spier wat bietjie getrek het nie. ʼn Skeurtjie in die labrum het vog getoon tussen die kraakbeen en die been van die skouergewrig, spiere en tendons vasgeknyp by sleutelbeengewrig en skade aan die groot tendons.
Fisioterapie en medikasie vir die inflammasie was eerste linie behandeling. Altyd eerste konserwatief. Ongelukkig was dit nie suksesvol nie en ʼn operasie het gevolg.
Aan die labrum skeur kan sjirurg niks doen nie. Die biseps se hegting is afgesny en die tendon is op ʼn ander plek aan die been geheg om verdere skeur te voorkom. Die stukkies weefsel in die skarnier is verwyder en dis skoongemaak om verdere wrywing te voorkom. Die sleutelbeengewrig is afgeskaaf om die vasknyping van die spiere en tendons beter te maak.
Vir ses lange weke is die arm en skouer geïmobiliseer in ʼn sagte spalk.
Toe die sagte spalk af is, het daar nou weke van fisioterapie begin. Dis toe nou net híér waar die oorryp papaja die waaier tref… Dis waar die intense inflammasie toe begin.
‘Jy is te besig. Jy moet rus.’ Woorde wat almal sê. Maar is ek régtig te besig? Is ek? Ek doen niks buitengewoon nie. Ek lewe net, en dis te veel.
Die grade waarteen my arm moet kan beweeg, vorder pragtig en dis amper honderd persent waar dit was. Dis darem baie positief.
Vir nou is ek vir twee weke op absolute rus. Die by het nie eers meer knoppies waar vlerke moet wees nie. Axolotl. Ek sit. Ek dink. Ek sit. Ek dink. En dis al. En dan herhaal ek dit weer.
Ek probeer om nie te sulk nie. Dit sal dit net moeiliker maak vir myself en my man wat met my moet leef. Hy is uiters verdraagsaam en hanteer die skoonmaak en skottelgoed soos ʼn pro. Ek is so dankbaar vir ʼn goeie man soos hy.
Maar my werk hoop op. Skoolwerk raak agterstallig. En ek kan nou niks daaraan doen nie. Ek kan nie op my laptop werk nie, of by my lessenaar sit nie. Ook nie boeke optel nie. My skouer skree baie gou as ek net daarvoor kyk. Moet ek iets dringend doen of ʼn kind help, slaan daar ʼn duisend vlymskerp tande in en byt vir my dat ek brul.
Drie tree vorentoe en twee tree terug. Kortisoon infiltrasie. Anti-inflammatoriese middels. Ys. Rus. Sit op jou alie Jakoba.
Aan boogskiet dink ek nie nou nie. Eerste prioriteit is nou om inflammasie-vry te kom. Dan kan fisio begin om spiere sterk te maak.
Ek het vir AI gevra om vir my ʼn Axolotl te teken wat vlerke het. Hulle kan mos weefsel regenereer, dalk sal ek weer vlerkies kan groei as ek stil genoeg kan sit.
Maar nou, nou stap ek op ʼn reis met geen bekende eindbestemming nie.
’n Pers stukkie skulp gee ek vir jou. Gebroke, maar steeds mooi.
Die klippie uit my hand is glad gewoel deur see en sand, die ritme van golwe lewensasem, in en uit.
Mikroskopiese kristalle van pêrel Skep ʼn illusie van blink as jy water daarop skink. Maar helaas, die branders het hul merk gelaat en blink is nou slegs ʼn herinnering.
Ek gee vir jou voete spore van somers en lag, die moed om te loop as pyn en duisel jou wil laat struikel .
Ek gee vir jou ʼn stukkie van my hart. Lees die dieper waarheid in my woord’ ontbloot. Ek gee vir jou ʼn stukkie van jouself.
In die môre se sagte asem waar lig soos heuning val, staan ek tussen klein wonders van mos orals op die wal. ’n Slak se silwer kronkelpad, ’n reëndruppel wat sonlig hou, feëtjieblomme so klein gebou in sagte kleure soos pienk en blou. Die wêreld fluister saggies vir dié wat stadig kyk; ’n kaart van klein geheime vir elke stille blyk. En so leef ek my dae met sagte woord en wind… want in die kleinste dinge word ek weer ʼn kind. In die skadu van die bosse, waar mos sag soos asem lê, dans drie klein sussies,
feëtjies uit ’n sprokiessee. Hul voetjies roer die mosbed en hul lag klink soos klokke wat deur die bos kom hang. Teunet, kreatief en sag soos druppelmis, Magda, sterk en kragtig soos ʼn warrelwind, en Kobie, met haar skerp oog vir elke wonderkind,
verdwaal in haar kop se somerswind. Saam ontdek hulle blommetjies fyn soos asem teen die bas, blinkend in die groen skadubos soos sterre wat blink in vreeslik lang gras. En in daardie klein geheime van mos en lig en spel, dra die drie feë-sussies die hele wêreld sonder enige kwel. Olke bolke riebietjie stolke
of is dit akrakedabra kierankies braai? die towerstaf is alle geval geswaai en nou is die blomme vir ewig in glas gebaai.
In Julie vanjaar het ek ʼn besering opgedoen tydens ʼn boogskietkompetisie in Zambië, oomblikke na die foto hieronder geneem is.
Met die besering is die biseps beseer en onder andere het die kraakbeen ook losgeskeur van die been. Dit kan nie regtig weer geheg word nie.
Drie weke gelede het ek ʼn skoueroperasie gehad. Op sigself is dit nie ʼn groot operasie nie, maar o wee! Die nagevolge en rehabilitasie wat daarop volg is wat die sukses van die prosedure bepaal, en dit is nogal intensief.
Die grootste van die prosedures wat gedoen was, was dat my bisepsspier geskuif is. Eenvoudig gestel is die spier se hegting aan die been losgemaak, ʼn gaatjie is in die been geboor en die hegtingsmateriaal daardeur gedruk en soort van agter geknoop om ʼn nuwe posisie te verkry wat verdere skeur van die labrum gaan verhoed.
Dis nou nie die tipe weefsel wat maklik groei nie, en al is my hart bloedjonk, is my lyf sestig verby.
Ek is gevolglik nou vir ses weke in ʼn moderne hangverband of te wel armstut sodat die spier kan heg. My arm mag byvoorbeeld onder geen omstandighede reguit gemaak word nie en ʼn paar ander verbode bewegings. Die biseps mag glad nie aktiveer nie. Velcro strokies op strategiese plekke van die stut verhoed van die verbode bewegings. Fisioterapie een maal per week en daaglikse oefeninge twee maal per dag is my vooruitsig vir nog baie lank.
Met hierdie beperking in beweging, veral die verlies van my dominante hand en arm, het ek skielik agtergekom hoeveel klein dingetjies ons as vanselfsprekend aanvaar, hoeveel keer albei jou hande saamwerk om iets eenvoudig te laat gebeur.
Smeer bietjie ʼn broodjie met net jou dom hand. Smeer is niks, maar wie of wat hou die broodjie stabiel terwyl jy dit wil smeer? Eet jou kos met ʼn vurk. Mmm, daai stukkie vleis gaan nie werk nie… Maak ʼn hemp se knopies vas. Klink maklik nè, maar jou hand moet alleen die twee ente bymekaar kry en dan vashou om die knopie deur die skielik báie klein gaatjie te kry met dieselfde hand. Trek jou broekie oor jou boude na jy die hele toiletprosedure domhandalleen aangedurf het. Was met jou linkerhand onder jou linker oksel. Behoorlik, nè, nie sommer net woerts warts nie! Meer nog, vat jou skeermes en skeer daai wolle onder daai oksel af wat eensklaps groei asof daar ʼn kompetisie is om te kyk wie se onderarmhare groei die vinnigste. Maak die sjampoe bottel oop, gooi met dieselfde hand sjampoe op jou hare en was dit. Kam nou daai nat lang hare uit en maak dan ʼn poniestert. Trek ʼn T-hemp aan oor ʼn arm wat nie mag beweeg nie, dan oor jou kop en linkerarm deur die gat. Klink haalbaar. Oeps, dit maak ʼn rolletjie agter jou rug. Ontkoek daai rolletjie en trek jou hemp af. Nee… NEE! Daai arm mág nie beweeg nie! Wat van vat die besem en vee die vloer? Ek praat nou nie van versprei die dyof nie. Vee dit uit, man! Knip ʼn bietjie jou toonnaels. Ja, daai klein krommetjie wat ondertoe wys ook…
Ag, so kan ek aangaan. Baie dinge het ek vooraf geoefen. Baie dinge werk toe nie so uit nie, want pyn saam met onkapabel is ʼn anderste ding.
Van dit kan ek nou al self doen en vir van dit het ek nog steeds hulp nodig. Met my dominante arm nou onbruikbaar, raak die hotklou al hoe handiger. Trots is ʼn vieslike ding en jy leer gou jy moet hom maar in jou sak steek om te oorleef. Dis toe nie so erg om iemand te vra om jou te help aantrek nie.
ʼn Piepklein blommetjie waarvoor ek op my knieë gaan sit het, met my linkerhand alleen afgeneem het. Tegnologie maak dit so maklik!
Ek is baie dankbaar vir baie dinge:
• Rekke in van my broeke.
• Lekker los T-hemde en hemde met knopies.
• Insteek tekkies en plakkies, wanneer ek stewiger tekkies wil aantrek, maak Roelf baie geduldig my veters vas.
• Elektriese tandeborsel.
• Fisios wat mens leer aantrek.
• Kleinkinders wat my rug kan krap vir daai onmootlike jeuk op ʼn plek waar jy nie eers ʼn stokkie gedraai kry om by te kom nie.
• ʼn Dogter byderhand om my skouer te masseer wanneer Pa besig is met werk.
• Parcetamol Panado’s vir pyn want ek is allergies vir opiate wat aanbeveel was.
• Ek is dankbaar dis somer, al is die arm so teen my lyf baie warm. Ek kan nie eers dink hoe moeilik ʼn langmou hemp gaan wees om deur te wikkel nie.
• My selfoon wat ek op my been kan rus en met een linker voorvingertjie ʼn hele blog kan skryf.
• Gesonde bene om nog lang ente te kan stap, al loop ek met ʼn stapstok om stabiliteit te verseker.
• Krane wat oplig om oop te maak en te verstel, en nie oopdraai nie. Dis net soveel makliker met een hand.
• My eie selfoon wat die fisio kan gebruik om my af te neem om oefeninge reg uit te voer.
• Onderarm absorbeerdoekies van Temu om te keer dat swamme groei onder my arm en in die waai waar die vleisies nou heeltyd op mekaar gedruk is – dis ʼn wenner!
• My selfoon om my mee besig te hou. Ag wat sou ek tog dóén sonder my stukkie tegnologie. Ek kan nog tien redes gee vir my dankbaarheid vir die ou ding.
• My uitskopstoel waarop ek gemaklik kan slaap. Ek mag net op my rug slaap en op die bed is dit te plat, dan kry ek nie asem nie. Dankie tog dat my klein lyf kan inpas op my stoel!
Die héél grootste ding waaroor ek dankbaar is, is my liewe man. Hy is net die beste. Niks wat ek vra is te veel gevra nie. Hy vul aan waar ek nie self regkom nie. Hy maak hoofsaaklik kos, ek help waar ek kan. Skottelgoed, vee, mop, stofsuig, wasgoed en wat ook al gedoen moet word, die doen hy. Ry my fisio en dokter toe. Het my aangetrek heel aan die begin. Sny steeds my vleis en smeer my broodjies. Maak my veters vir my vas. Maak ʼn poniestert na ek my hare uitgekam het. Ondersteun my emosioneel wanneer dit vir hierdie besige by te veel raak om ʼn erdwurm te wees. Dankie. Ek waardeer jou meer as wat jy ooit sal weet.
Klein dingetjies maak saak. Dit is die boustene vir groot dinge. Waardeer jou gesondheid en mobiliteit. Net ʼn oogwink en dis weg. Ek is dankbaar vir die wete dat my struikelblokke net tydelik is. Hoe lank dit gaan vat, dit weet ek nie.
Vir nou, waardeer ek al die klein dingetjies wat saak maak. Want die klein dingetjies is eintlik groot dinge.
My Ma het groen vingers gehad. Altyd blomme in die huis, tuingemaak tussen die klippe met min water. My eerste plant wat ek gehad het was ʼn goue Pothos plantjie. Ek was in die hoërskool en het in ʼn buitekamer op ons plot gebly. My ma het ʼn groot gloeilamp se binnegoed versigtig uitgehaal en die Pothos het pragtig wortels gemaak en welig gerank in my kamer.
Ek het gaan soek vir iets soortgelyks, loer by hierdie video.
Foto vanaf die internet
Ek het nie my Ma se groen vingers nie, maar hou baie van plante. Klein vetplantjies is nogal veral van my gunstelinge. In haar laaste jare het ek en my sussies vir haar bakke vol plantjies vir haar stoepie gevat by haar aftree-oord. Van die plaas af het ek stompies aangedra.
Kort na ons getroud is, het ek ʼn klein ronde visbak terrarium gehad. Dit was in die tyd waar biblioteekboeke die enigste bron van inligting was en ek het dit met moeite onderhou. Later jare het ek en my man die mooiste loodglasterrariums gebou.
ʼn Paar weke gelede was ek en my man by ʼn orgidee-uitstalling by ʼn kweker. Daar is toe ʼn enorme terrarium vol mikro-orgideë. Missproeiers dra by tot ʼn absoluut misterieuse effek… Met moeite het ek aanbeweeg na die volgende groep plante.
“Jy weet ek kan vir ons so terrarium bou. Eintlik het ek reeds ʼn kas met ʼn glasdeur wat kan werk.” Nou ja toe.
Met die internet is inligting net ʼn Google soektog vêr, ondersteuningsgroepies en kundiges vanoor die wêreld 24/7 beskikbaar om raad te gee. Die gogga wat jare gelede gebyt het, is opnuut aangewakker.
In die proses leer ek het ʼn hele paar nuwe woorde.
Die eerste is paludarium. Dis ʼn kombinasie van ʼn terrarium met ʼn akwatiese gedeelte by. Byvoorbeeld ʼn akwarium onder wat aan die bo-kant uitloop na terrariumplante.
Volgende is vivarium wat die kombinasie is van ʼn terrarium met ʼn diertjie by. Voeg ʼn waterhabitat by en mense hou suksesvol paddas aan in hulle paludariums.
ʼn Nemofilis, dis nou iemand soos ek met ʼn liefde vir woude en bosse, wat vrede daar vind en ʼn spiritualiteit met die omgewing ervaar, is die volgende term. Dis skynbaar ʼn woord wat min gebruik word, en nou ken jy dit ook.
En daar gaat ons. Maak planne. Doen navorsing. Bestel met die klik van ʼn knoppie spesialisplante en benodigdhede. Tegnologie werk. Versamel mos, klippe en stompies in die veld. Koop nog plante by die kweker. Droom groot.
Die prys wat mens betaal om jou eie mosse te gaan versamel
So word ʼn ou rekenaar server kas tjop-tjop omskep in ʼn mini-woud vir die nemofilis met haar liefde vir glas, kompleet met beligting vir die plante en missproeiers om dit te benat. Tot ʼn paar erdwurms en ʼn houtluis kry ʼn nuwe huis. Terloops, mens kan houtluise ten duurste aanlyn aankoop…
Sommer ʼn hele paar kleiner terrariums kom tot lewe. Dis ʼn gogga wat baie diep gate byte.
ʼn Geskenk vir iemand spesiaalʼn Geskenk vir ʼn spesiale persoonʼn Vriendin het die basisbak gemaak, en die koepel was ʼn geskenk van ʼn ander vriendin
My slakkies wat sommer net in ʼn ou roomysbak was, kry sommer ʼn pragtige nuwe huis; Molluskarium is sy deftige naam.
Molluskarium
ʼn Glashouer met net mosse, roep ons ʼn mossarium.
Plaasmosse Nog ʼn mossarium
ʼn Groot 1.2 m hoë glaskas se eerste aanplantings is reeds gedoen, en die ektra-groot akwarium op die stoep wat tans sonder vissse staan, sal oor ʼn paar maande vol in ʼn paludarium omskep wees.
Niemand anders wat ek as kind geken het, het plantjies in water gegroei nie. My liefste Ma het ons intellek op soveel maniere gestimuleer en ons geleer om ons grense te verbreed sonder dat ons dit besef het. Dankie Ma, ek wens Ma kon my pragtige klein ekosisteme sien. Ma sou al die nuwe inligting saam met my geniet het en natuurlik sou ek vir Ma die mooiste terrarium bou.
Dis vir my baie belangrik dat my lewe betekenis moet hê, ek wil nie net asem haal nie. Iewers hoop ek dat iets van my aan iemand sal afsmeer wat positief is. Net so belangrik is dat die mense en alles om my, betekenis vir mý moet hê. Klippe en dinge wat ek optel het sentimentele betekenis, elke ding waarmee ek te doen het word bestudeer en intens beleef; dit word deel van my.
ʼn Ruk na ons die plaas gekoop het, was ons so gelukkig om onverwags vir Frikkie en Frieda Thutlwa aan te neem en hulle word toe ook du Preez’tjies. Ek kon tot baie naby aan Frikkie stap. Frieda het ‘n groter persoonlike ruimte gehad en het dadelik gewys wanneer sy gedink het jy oortree haar ruimte. Ons het baie vir Frieda gelag. Sy het met haar lyf agter bosse gestaan, perfek gekamoefleer en dan teen die kant uitgeloer met haar kop. Kompleet asof sy dink ons sien haar glad nie. Dit was vir my ‘n besondere ervaring om tyd met hulle te spandeer. So statig. So rustig. So vol vrede.
Frieda groet die son op ons songroetklip
Frikkie met sy skewe horing
Frieda was nie ʼn goeie ma nie en slegs een kalf, Frommel, het oorleef. Hy is herdoop na Duke by die rehabilitasiesentrum waar hy was. Daar het hy vir mooi herinneringe gesorg vir menige van die vrywillige werkers in die paar maande wat hy geleef het. Al was dit ‘n kort lewe, sy lewe het vir iemand iets beteken.
Ek en ou Frommel
Frieda is dood met ʼn kalf wat vasgesit het en Frikkie het homself dood geval in ʼn sloot. Frikkie se skedel met sy een skewe horing het nou ‘n ereplek in my dogter se Lewenswetenskappe klas, reg by die deur waar hy die leerders verwelkom.
Kameelperdbene is baie hard en mesmakers gebruik dit graag in die hewwe van hul tuisgemaakte messe. My broer Hannes se kreatiwiteit word uitgeleef met die pragtige messe wat hy maak en natuurlik het hy dele van ons Frikkie en Frieda gekry om hul lewens ʼn ander betekenis te gee.
Hannes maak vir my ʼn lieflike mes as geskenk met die hef van Thutlwa been en rooi hars vir ʼn bietjie kleur.
Ek bestel vir my en my man Roelf elkeen ʼn groot knipmes by hom, en dis baie spesiaal.
Hierdie hewwe is van Thutlwa been en rooi-ivoorhout van ʼn boom wat sy lewe uitgeleef het op ons plaas.
Die rooi-ivoor is ʼn baie harde hout en ons het die hout geoes van ʼn stomp uit die veld. My mes is baie spesiaal vir my… my boetie het dit met sy eie hande gemaak van been van my geliefde langnekke en hout van ons plaas.
Ek het gedink dat dit nou die hoogtepunt is van ons liewe langnekke, tot ek ʼn WhatsApp boodskap kry van my broer terwyl ek by die skool is. My familie weet dat ek nie foon kan antwoord in die klas nie. ‘Kan ek jou bel as jy n kans het? Iets BAIE interessant wat mens amper nie kan glo nie…’ Met my eerste administratiewe periode laat weet ek dat ons die bel ding kan doen.
Dit wat hy vertel is nie interessant nie, dis absoluut ONGELOOFLIK!
Hy werk vir die weermag en daar is van hulle eenheid se mense in die Demokratiese Republiek van die Kongo.
In sommige Afrika kulture speel diere ʼn belangrike geestelike rol. Hele families identifiseer met ‘n spesifieke dier. Sommiges dra die van van hulle dier, bv Tau (Leeu), Ngwenya (krokodil), Ndhlovu (olifant), Mamba. iNdlulamithi is die woord in die Zulu-tipe tale vir ʼn kameelperd en die Sotho-tipe woord is Thutlwa. Volgens die Suid-Afrikaanse skrywer en sangoma Vusamazulu Credo Mutwa, word kameelperde beskou as een van die heiligste diere op Aarde. Thutlwa beteken ‘the honored one’ of ‘the one to be respected’ en iNdlulamithi beteken ‘the one who is taller than trees’.
Volgens Mutwa word kameelperde beskou as sieners omdat hulle gevaar van vêr af kan sien met hulle lang nekke.
Net voor een van die manne na die DRK vertrek het, het hy vir my broer kom vertel dat kameelperde hulle familie se dier is. Of hy êrens gehoor het van Hannes se messe en of hy slegs gevra het omdat hy weet my broer jag graag en het ʼn liefde vir die veld, weet ek nie. Maar hy het kom vra of Hannes nie weet waar hy iets van ʼn kameelperd kan kry om saam te vat na die DRK nie. Hannes maak toe vir hom ʼn redelike groot sleutelhouer van Frikkie of Frieda se been.
In Januarie sterf Suid-Afrikaanse soldate in die DRK waar hulle deel is van die UN se vredesmag. Daar waar Hannes se kollega ontplooi is in Goma. Die rede waarom Hannes my gebel het, gaan oor daardie geveg.
Sy kollega het hom gebel om te sê dat hy in daardie geveg was en dankie vir sy stukkie heilige been. ʼn Stuk skrapnel het vasgeslaan tydens die geveg in sy stukkie been. Die projektiel sou hom gedood het as dit nie was vir Frikkie of Frieda nie! Hy wil nie ʼn foto neem nie, omdat sy geloof bepaal dat sy talisman dan sy krag gaan verloor, en hy het dit nog nodig in Goma. Kan jy dit nou oorvertel!
My Frikkie en Frieda het nie net asem gehaal, blare gevreet en gepoef nie. Hulle lewens het betekenis gehad en hoe bevoorreg is ek nie dat ek hulle geken het en tyd kon spandeer het met hulle. Nou het hulle ook betekenis vir mý lewe gegee, ek het vandag nie net asem gehaal nie, ek kon wat sekerlik die belangrikste hoofstuk van hulle bestaan was, oorvertel. Wat ‘n seëning!
Ek kyk met groot dankbaarheid terug na 2023. Dit was vir my ‘n goeie jaar.
Om die foto collage te maak, moes ek letterlik deur duisende foto’s gaan om ‘n paar uit te kies wat vir my betekenis het.
Ek is so bevoorreg om op die mooiste plaas te bly. Die veld en alle lewensvorme lê naby aan my hart. Dis vir my lekker om my seëning met ander te deel en daarom doen ek baie moeite om spesiale foto’s te neem. Die groen paddatjie is slegs 2 cm lank. Vir hom moet ek my gumboots aantrek en met ‘n flits gaan soek in die dam terwyl Roelf waghou om seker te maak ‘n wegloop-krokodil knibbel nie my toonnaels in die donker af nie.
‘n Groot droom is verwesenlik toe ek ‘n beginnerskursus in juweliersvervaardiging kon doen. Dit beteken dat ek nou self my glas in silwer kan set. Die helfte van die finansiering daarvan is die geldjie wat ek geërf het van my ouers. Dit maak elke stuk wat ek maak ‘n gedagtenis aan hulle.
Al verpes ek die sleur van elke dag se maaltye maak, is dit vir my lekker om konfyt te kook en goeters in te maak. Die lig wat so mooi deur my kalamondenmarmelade skyn, beur my sommer op.
Ek het so baie mooi glas gemaak hierdie jaar, dit was ‘n moeilike keuse, maar die blou kruis is vir my ‘n simbool van my geloof. Sonder God in my lewe, is ek niks. Ek het baie verkoop, maar meer weggegee. Die maak van elke stukkie glas om my kreatiwiteit uit te lewe, is vir my ‘n oorwinning. Om te weet dat ander mense ook daarvan hou, verskaf vir my ‘n diep vreugde
My liefde vir slakke is bevestig met ‘n uitstappie om mooie piepklein Gulellas te gaan soek. Dis iets wat onlosmaakbaar deel is van wie ek is en ek sien uit om weer hierdie passie deel te maak van my lewe. My blog se naam is nie verniet Slakkelak nie!
Op sportgebied het ek my eie SA rekord vir die Animal Round verbeter na ‘n beter telling. Die hoogtepunt van my jaar was om as wenner in my ouderdomsgroep van die Afrika kampioenskappe bekroon te word.
Mens bereik nie doelwitte op jou eie nie. Ek is meer as dankbaar vir die ondersteuning wat ek van my liewe man kry. Sonder hom in my lewe sou ek nie kon bereik wat ek het nie. Dankie vir jou liefde en ondersteuning.
Sonsondergange is soms trane-in-jou-oë mooi op die plaas. Wanneer die laaste strale breek is dit die oorgang van vandag na gister. Vir elke gister is daar ‘n vandag. Vir elke vandag, gaan daar ‘n môre wees.
Ons weet nooit wat die dag van môre gaan bring nie. Daarom moet ons elke dag voluit lewe. Ons moet op kyk en selfs wanneer die donkerste wolk ons wil oorval, die goue randjie raaksien.
Dankie vir elkeen wat hierdie jaar op my pad gekom het en ‘n paar voetspore saam met my gelos het.
Ek het ‘n stukkie Lig in my hand gevang en toe ek my hand toevou om dit vir my te vat, besef ek dat al vou ek my hand toe, Lig is nooit myne alleen nie. Die hou aan skyn en skyn vir ons almal.
Mag daar Lig in jou lewe wees in die nuwe jaar, gryp dit en skyn helder om die donkerte weg te jaag.
Voorspoed vir 2024. Mag dit vir jou ‘n beter jaar wees as 2023. Mag jou bagasie wieletjies kry wanneer dit voel of dit te swaar raak alleen om te dra. Mag jy vrede in jou hart hê. Lekker lag. Lekker eet. Mag jou mense vir jou lief wees. Mag jou two-ply nooit opraak nie en jou tandeborsel nooit wolle maak nie. Mag daar altyd kaas wees in jou yskas en jou waaier werk in die hitte. Mag jou kombers snoesig bly in die winter en jou honde bly wees om jou te sien. Mag jou katte by jou voete sit en spin van lekker kry en mag God se liefde en genade deel wees van jou lewe.
Kleintyd was Kerskaartjies ‘n groot ding. Prentjies van kerkies oortrek met sneeu, kersbome met kerse in, voëltjies wat knibbel aan rooi bessies, dennebolle , Kersvader op sy slee, takbokkies en nog meer, is mooi uitgeknip om op ons bruinpapier-oorgetrekte boeke te plak vir ons nuwe skooljaar. Die meeste kaartjies het harde, growwe silwer blinkertjies opgehad. Met die uitknip het dit dan afgeval en naderhand was alles blink.
Kersbome met geskenke was iets wat vir ons op die prentjies bestaan het. Geen blink tinselstringe in ons huis nie. Geen geskenke onder ‘n boom nie. Geen blink liggies nie. Elektrisiteit was in elk geval iets wat ander mense gehad het, in ons huis was kerse en paraffienlampe.
Tipiese Kerskaartjies uit my kinderjare
Ons harte het gebrand vir ‘n blink kersboom. Deur die jaar het ons blink gekleurde foelie sjokoladepapiertjies (wat Ouma en Oupa, wat deel was van die gesin, gekry het vir verjaardae of iets dergeliks) sorgvuldig uitgestryk en gebêre.
Wanneer dit amper Kersfees was het ons ‘n takkie katstert by die dam gaan pluk. Die fyn asparagusblaartjies lyk soos miniatuur dennetakkies. Die takkie is staan gemaak in ‘n blik vol sand.
Katstert, ‘n lid van die asparagusfamilie
Ons feëtjie boom is dan opgemaak met die gekleurde blink sjokoladepapiertjies en my ma het vir ons ekstra gewone foelie gegee om ‘n kartonster oor te trek.
Sus Ami het een klein kersblakertjie gehad wat ‘n verjaardagkersie kon vat, en so drie gekleurde kersies. Díé is dan staan gemaak by ons boompie. Ons mag nie die kersies gebrand het nie, dis netjies gebêre sodat sy dit weer vir ons kon uithaal die volgende jaar.
So het ons jaar na jaar vir ‘n dag of twee ‘n blink kersboompie gehad. Tot die blaartjies begin afval en my ma ons skepping wat haar huis bemors, laat verdwyn. Teen daardie tyd was ons aandag in elk geval lankal weer op buite speel, ons drang vir blink was bevredig.
Ons was arm, maar ons het dit nie eintlik geweet nie. Kerstyd was vir ons blikke vol tuisgemaakte koekies. Buiten die gewone vla- en ander soetkoekies was daar Hertzoggies, ystervarkies en konfyttertjies. Bloedrooi waatlemoene tot ons nie meer kon nie. Vrugte uit die boord, onbeperk. Kersdag was dit familietyd. Ons was gelukkige kinders wat net liefde geken het.
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.