Warrelwind

Gister terwyl ons twee ry sien ek n spontane warrelwind wat sakkies en stof optel en ronddraai. Dit voel asof ek daai warrelwind is. Of asof die warrelwind in my kop is. Deur my hele lyf en lewe draai. Dis so onvoorspelbaar niemand weet waantoe dit volgende gaan nie en wat dit gaan optel of los langs die pad nie. Dit groei en krimp met soveel oorgawe, dis nie jammer dat dit bestaan nie. Ek wil so wees. Miskien is dit dan nie n slegte idee om n warrelwind te wees nie. So skielik soos dit begin het, so skielik gaan lê dit weer, sit elke sakkie sorgvuldig op n ander plek neer. Sand en stof waai stilletjies en gaan rus op hul nuwe tuiste. Dis baie keer soos ek spring van gedagte tot gedagte.

Ek sit hier met my laptop tussen wasgoed, karretjies, skottelgoed en pienk teekoppies. Dis my warrelwind. Dis my lewe. Elke ietsie het sy plek waar hy rond dwarrel in my warrelwind van n lewe.

Splinters

Vandag is n moeilike dag. Dié gevoelens kom soos n skielike donderstorm in die somer van my lewe. Dit voel nie aldag soos somer nie. Vandag voel nie soos somer nie. Vandag voel soos n woeste wintersdag in Worcester wanneer die wind als deurmekaar waai.

En dis seker oor ek sekerheid in die lewe so nodig het soos daaglikse brood. Ai tog, mense eet nie eers meer brood nie, arme gluten.

Mens soek sekerheid in die alledaagse dinge maar tog in die groot goed wat als toevou soos n warm kombers in die koue nag. Die groot goed is dit wat onsekerheid gee deesdae. Ons kan net geduldig wees tot die groot goed hulself in plek sit. Ag Here, mag die groot goed ons omvou en nie toevou nie.

‘n Splinternuwe huis. ‘n Huis wat van splinters gemaak is, almal saam in een rigting. Blokke hout. Beskermend, omvattend, omvouend.

Mag dit so wees Here.

Design a site like this with WordPress.com
Get started