Kinematografie

Kinematografie, van die Griekse κίνημα (kínēma, "beweging"), en γράφειν (gráphein , "om te skryf, teken, skilder"), is die kuns van rolprente en, meer onlangs, elektroniese videokamerafotografie. 'n Kinematograaf gebruik ’n lens om weerkaatste lig van voorwerpe te fokus in ’n werklike beeld, wat oorgedra word na ’n beeldsensor of liggevoelige materiaal in die rolprentkamera.[1] Dié beligtings word agtereenvolgens geskep en vir latere verwerking en besigtiging as ’n rolprent bewaar.
Die vaslegging van beelde met ’n elektroniese beeldsensor lewer ’n elektriese lading vir elke pieksel in die beeld, wat elektronies verwerk en in ’n videolêer gebêre word vir daaropvolgende verwerking of vertoning. Beelde wat met fotografiese emulsie vasgelê word, lei tot ’n reeks onsigbare latente beelde op die filmrol, wat chemies “ontwikkel” word tot ’n sigbare beeld. Die beelde op die filmrol word met ’n rolprentprojektor geprojekteer vir besigtiging.
Kinematografie word in baie velde van die wetenskap en die sakewêreld gebruik, sowel as vir vermaakdoeleindes en massakommunikasie.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Swart-wit
[wysig | wysig bron]In swart-wit kinematografie word beelde in skakerings van grys geskiet. Dit is 'n kragtige tegniek waarmee rolprentvervaardigers kontras, tekstuur en beligting kan benadruk. Visueel treffende en atmosferiese prente is so geskep. Dit gee ook die akteurs se gesigsuitdrukkings meer definisie.
Vandat rolprente in die 1880's begin maak is, was hulle hoofsaaklik monochroom. Dit beteken nie noodwendig swart-wit nie, maar in een kleur of skakering. Omdat swart-wit goedkoper was, is dit vir die meeste ou prente gebruik tot in die 1950's, toe goedkoper kleurprosesse ontwikkel is. Teen die 1960's is die meeste rolprente in kleur geskiet. Deesdae is swart-wit prente skaars.
Ken Dancyger se boek The Technique of Film and Video Editing: History, Theory, and Practice[2] gee 'n insig in die historiese en teoretiese aspekte van swart-wit kinematografie.
Noemenswaardige rolprente wat in swart-wit geskiet is, sluit in Casablanca (1942), Raging Bull (1980) en Schindler's List (1993). Dié prente wys die krag en uiteenlopendheid van swart-wit kinematografie om emosionele beelde te skep.
Kleur
[wysig | wysig bron]Ná die uitvinding van rolprente is baie energie daaraan bestee om prente in natuurlike kleur te skep.[3] Die uitvinding van praatflieks het die vraag na kleurkinematografie verder verhoog. Dit is egter 'n stadige proses in vergelyking met ander tegnieke.[3]
Vroeë kleurflieks is nie in kleur geskiet nie. Dit was swart-wit prente wat dan met die hand of met masjiene gekleur is. Die vroegste voorbeeld is die handgekleurde weergawe van Annabelle Serpentine Dance in 1895. Dié tegniek het gewild gebly tot met die uitvinding van kleurkinematografie in die 1910's.
In 1902 het Edward Raymond Turner die eerste prente met natuurlike kleur geskep.[4] In 1909 het die publiek Kinemacolor gesien.[5] Die eerste weergawe van Technicolor is in 1917 bekend gestel, Kodachrome in 1935 en Eastmancolor in 1950. Laasgenoemde het gelei tot die einde van Tecnicolor.[6]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Spencer, D A (1973). The Focal Dictionary of Photographic Technologies. Focal Press. p. 454. ISBN 978-0133227192.
- ↑ Dancyger, Ken (Januarie 2026). The Technique of Film and Video Editing: History, Theory, and Practice (in Engels). Routledge. ISBN 9781032849799. Besoek op 28 Februarie 2026.
{{Verwys boek}}: VS1-onderhoud: datum en jaar (link) - 1 2 Baker, T. Thorne (1932). "New Developments in Colour Cinematography". Journal of the Royal Society of Arts.
- ↑ "World's first colour film footage viewed for first time". BBC News. 12 September 2012.
- ↑ McKernan, Luke (2018). Charles Urban: Pioneering the Non-Fiction Film in Britain and America, 1897–1925. University of Exeter Press. ISBN 978-0859892964.
- ↑ Cook, David A., A History of Narrative Film (2de uitgawe), W.W. Norton & Company, 1990). ISBN 0-393-95553-2
Skakels
[wysig | wysig bron]
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Kinematografie.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.