Piraeus
Piraeus | |
|---|---|
| Koördinate: 37°56′34.8″N 23°38′49″E / 37.943000°N 23.64694°O | |
| Land | |
| Administratiewe streek | Attika |
| Bevolking (2021) | |
| • Munisipaliteit | 168 151 |
| • Stedelike gebied | 448 051 |
Piraeus (Grieks: Πειραιάς, Peiraiás; Oudgrieks: Πειραιεύς) is ’n hawestad binne die Athene-stedelike gebied (“Groter Athene”), in die streek Attika van Griekeland.[1] Dit is 8 kilometer suidwes van Athene se middestad geleë langs die ooskus van die Saroniese Golf in die Athene Riviera.
Die munisipaliteit van Piraeus en vier ander voorstedelike munisipaliteite vorm die streeks-eenheid van Piraeus, soms die Groter Piraeus-gebied genoem, met ’n totale bevolking van 448 051. Volgens die 2021-sensus het Piraeus ’n bevolking van 168 151 gehad, wat dit die vierde grootste munisipaliteit in Griekeland maak en die tweede grootste (ná die munisipaliteit van Athene) binne die Athene-stedelike gebied.
Piraeus het ’n lang opgetekende geskiedenis wat terugdateer tot antieke Griekeland. Die stad is in die vroeë 5de eeu v.C. gestig toe planne uitgevoer is om dit die nuwe hawe van Klassieke Athene te maak. ’n Prototipe-hawe is gebou wat al die invoer- en deurvoerhandel van Athene, asook die basis van die Atheense vloot, op een plek gekonsentreer het.[2] Gedurende die Goue Eeu van Athene is die Lang Mure gebou om die roete tussen die hoofnedersetting en die hawe (Piraeus) te versterk. In die klassieke tydperk het die vlootbasis in Piraeus 372 trireem-skeepshuise gehad.[3] Vanaf die 3de eeu v.C. het Piraeus ’n tydperk van geleidelike verval beleef, maar dit het weer begin groei in die 19de eeu nadat Athene die hoofstad van Griekeland geword het. Vandag is Piraeus ’n groot en bedrywige stad, ’n belangrike see- en kommersieel-industriële sentrum en die tuiste van Griekeland se grootste hawe.
Die Hawe van Piraeus is die belangrikste hawe in Griekeland, die vyfde grootste passasiershawe in Europa en die 24ste grootste passasiershawe ter wêreld, wat in 2020 sowat 4,37 miljoen passasiers bedien het.[4] Met ’n hanteringsvolume van 5,44 miljoen TEU-houers is Piraeus onder die tien besigste hawens in Europa wat houerverkeer betref, en die besigste houerhawe in die Oos-Middellandse See.[5]
Die stad het byeenkomste aangebied tydens die Olimpiese Somerspele in 1896 en die Olimpiese Somerspele in 2004 wat in Athene gehou is. Die Universiteit van Piraeus is een van die grootste universiteite in Griekeland en sluit die land se tweede oudste sakeskool in, asook die oudste akademiese departement wat aan finansies gewy is.[6]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ National Statistical Service of Greece (2002). Στατιστική Επετηρίδα της Ελλάδος 2002 (PDF) (in Grieks). National Statistical Service of Greece. p. 54.
- ↑ "Port of Piraeus". World Port Source. Besoek op 4 Januarie 2022.
- ↑ "Birth of Democracy: The Athenian Navy".[dooie skakel]
- ↑ "Messina remained the largest EU passenger port in 2020". Eurostat. Besoek op 8 Julie 2022.
- ↑ "Container terminal". www.olp.gr. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Desember 2008.
- ↑ "University of Piraeus Student Guide 2017" (PDF) (in Grieks). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 8 Mei 2022. Besoek op 13 Desember 2019.